Jy weet dis winter wanneer jou ore droë ys is as jy wakker word. Jy waag nie om daaraan te raak nie, want jou vingers self is te koud. Die lyf is papnat want hy was gevries en het deur die nag begin ontdooi. Dit help nie eers dat jy bietjie meer vet bymekaar gemaak het vir die koue nie. Jy klim uit maar klim weer terug onder die vere. Jy haal asem onder die drie wolkomberse sodat die wasem jou opwarm. Na ’n ruk steek jy jou been onder die swaar magdom uit en strek met jou gesokte toon tot by die verwarmer. Druk die knoppie met jou toon op twee. Dis beter. Dan sien jy jou spierwit been by die oranje flennie uitsteek, jou beenhare reik soos klomp klein toringtjies uit na die hitte. Jou likkewaanbrein sê vir jou dis oukei as hulle so bietjie skroei. Die been is so skurf die los velletjies krimp van die paneeltjie se hitte. Voor jou sok vlam vat trek jy maar weer die voet terug onder die duvet in. Jy kan nog vir vyf minute veilig lê voor jy rêgtig gaan laat wees vir werk.