Ek lê sykant toe op die bed. So bietjie bang om die boek oop te maak. Lê hom so skuins en lees, oor en oor. Ek het dit, ek het dit nie.
Uiteindelik staan ek voor die stoof met al die besondere bestandele, gereed vir die groot beproewing. Dis eers ’n lekker spul groenighede saamgemaal. Ek verbeel my my oë gaan traan en my lippe brand van die rissie. Die benoudheid flous my. En ek kry die gedagte dis my hiperkondriasis – soos Herman dit sal noem, wat juis hóm wil uitlok. Dis tyd vir vleisbraai, en ek smyt lekker stukke rousel in ’n pan vol warm olie. Roerbraai en skommel, so met die een hand nogal, tot lig bruin. Okay, myne was nie ligbruin nie. Dit was spierwit. Soos wolletjies katoen. Maar my neus sê vir my dis hoender. Ek het een en ’n half borsies gebruik. Om een of ander rede spaar ek altyd ’n stukkie ekstra.
Die hoendertjie sus en suis tot ’n rubberagtigheid en dan haal ek dit uit, sit dit op ’n bord, gaan voort. Dit was nou die eertse keer dat ek iets halfpad ophou braai en vir ’n rukkie uit die pan haal. ’n Werlike eerste – miskien ’n voorsmake vir wat mag volg, dié eerste.
Die groenpepertjies skirts in die olie en swooiee soos dit gaar word. Dan kom die rissie-mengsel wat toe nie so warm is nie by. En jong nou kook ek lekker. Ek skommel hom so in een hand, alle bangheid vergete. Die rys is ook sommer al ondertussen afgespoel en in die mikrogolf oond gesit. En terwyl my groen mengsel styf word tel die minute hier langs my af.
Die mengsel is nou weer styf genoeg vir die borsies en hulle maak saam ’n uitstekende kombinasie, en dan praat ek nog nie eers van die klappermelk wat ondertussen bygekom het nie. ’n Driespel speel hier voor my af, dis vuurwarm in die kombuis. Prut, prut.
Later moet ek weer die borsietjies uitskep en eenkant bere sodat die groensel kan verminder en verstyf. Ek is nou so gerus ek was sommer al bietjie skottelgoed. Hierdie kossietjies is goed aan die gang en die reuk se vir my dit mag dalk net ’n sukses wees.
Uiteindelik is die brousel lekker dik. So dik dat die geur al onder my neusgate vassit. Die vleis kan teruggaan en word stadig en sensueel deurgeroer, sodat die hitte van netnou terugkeer.
Piep piep piep peeee. Die rys blaas die eindfluitjie en dis tyd vir die groot proe. Ek skep vir Herman ’n grote. En dan proe ons my eerste Green Curry Chicken.
Daar het tweede rondtes gevolg…en dit is nou ’n maandelikse dis…