Die WoordSpook

'n versameling van woorde en gedagtes in moeder-Afrikaans

Die pad’ ons loop.

Kronkelpad, krummels grond, kruisings gruis.
Tienduisend keer tot perfek gestap.
Die bergop met lang tree:
arms, bene, moeg en uitgetap 

Trap klippe, rol stukke
rondings wat bulderend die opdraend vertraag.
En uiteindelik hygasem tot bo,
dan is bo nog nie die einde nie
aar net die begin van die afdraende.

Rooibruinbroek, warm wordend
gewoond aan sweet en swaar.
Maar daar is darem water.
Lafenis vir droogmond suig
versag die lewenspad
wat mettertyd die rug krom buig.

Eerste konkoksel

Ek lê sykant toe op die bed. So bietjie bang om die boek oop te maak. Lê hom so skuins en lees, oor en oor. Ek het dit, ek het dit nie.

Uiteindelik staan ek voor die stoof met al die besondere bestandele,  gereed vir die groot beproewing. Dis eers ’n lekker spul groenighede saamgemaal. Ek verbeel my my oë gaan traan en my lippe brand van die rissie. Die benoudheid flous my. En ek kry die gedagte dis my hiperkondriasis – soos Herman dit sal noem, wat juis hóm wil uitlok. Dis tyd vir vleisbraai, en ek smyt lekker stukke rousel in ’n pan vol warm olie. Roerbraai en skommel, so met die een hand nogal, tot lig bruin. Okay, myne was nie ligbruin nie. Dit was spierwit. Soos wolletjies  katoen. Maar my neus sê vir my dis hoender. Ek het een en ’n half borsies gebruik. Om een of ander rede spaar ek altyd ’n stukkie ekstra.

Die hoendertjie sus en suis tot ’n rubberagtigheid en dan haal ek dit uit, sit dit op ’n bord, gaan voort. Dit was nou die eertse keer dat ek iets halfpad ophou braai en vir ’n rukkie uit die pan haal. ’n Werlike eerste – miskien ’n voorsmake vir wat mag volg, dié eerste.

Die groenpepertjies skirts in die olie en swooiee soos dit gaar word. Dan kom die rissie-mengsel wat toe nie so warm is nie by. En jong nou kook ek lekker. Ek skommel hom so in een hand, alle bangheid vergete. Die rys is ook sommer al ondertussen afgespoel en in die mikrogolf oond gesit. En terwyl my groen mengsel styf word tel die minute hier langs my af.

Die mengsel is nou weer styf genoeg vir die borsies en hulle maak saam ’n uitstekende kombinasie, en dan praat ek nog nie eers van die klappermelk wat ondertussen bygekom het nie. ’n Driespel speel hier voor my af, dis vuurwarm in die kombuis. Prut, prut.

Later moet ek weer die borsietjies uitskep en eenkant bere sodat die groensel kan verminder en verstyf. Ek is nou so gerus ek was sommer al bietjie skottelgoed. Hierdie kossietjies is goed aan die gang en die reuk se vir my dit mag dalk net ’n sukses wees.
Uiteindelik is die brousel lekker dik. So dik dat die geur al onder my neusgate vassit. Die vleis kan teruggaan en word stadig en sensueel deurgeroer, sodat die hitte van netnou terugkeer.

Piep piep piep peeee. Die rys blaas die eindfluitjie en dis tyd vir die groot proe. Ek skep vir Herman ’n grote. En dan proe ons my eerste Green Curry Chicken.

Daar het tweede rondtes gevolg…en dit is nou ’n maandelikse dis…

Soldaat

 weggekruip, lê uitgestrek

klein-seuntjie-lyf, man in jou gesig.

 

riffels grond jou stewels dek

lê wang en rus op jou gewrig

 

loop snelhede vasgelê van plek tot plek

dink verlede tyd en lank-lank terug

 

trek asem diep in - geur ontdek

wat suisend oor eergister berig

 

en nou die doodse stilte

groen en bruin flenters

 

jou lyf leweloos getrek

’n ander had ok jou in sig.

In die lug hang ’n mengsel van soet karamel brandsel. Misterieus aanloklik sleg. Vreemd, want daar was niks soets in die pan nie. Miskien sê dit ietsie van die binneste.

Ek ruik sjokolade, sien pietersielie en proe bitter, bitter aspersie. Verbrande spinasie. Skurwe hande streel die krampe op my maag. My kop in die wolke van gebrande maalvleis. My hart skroei iewers in die olyf. O mag hy tog dan net lekker smaak.

Trapfiets oor die rug

Soos die kraai vlieg is dit vinnig oor die berg
as jy vlieg, maar op fiets word naby baie vêr.

Sy ysterperd het hard geblaas
bobeenspiere styf getrap
teen die steilte het hy sò geraas
dat hy moes afklim en verder stap.

Op sy natgeswete skouers
het die fiets in sonlig brand gebak
het hy geklim, o liewe ouers
sy wange blou en asem vlak.

En so het dit gekom
dat Jaap, jonk in vlees  
sy fiets gedra het, rug krom,
reg oor die berg
om betyds vir werk te wees.

 

Bibberrrbassiekoud!

Jy weet dis winter wanneer jou ore droë ys is as jy wakker word. Jy waag nie om daaraan te raak nie, want jou vingers self is te koud. Die lyf is papnat want hy was gevries en het deur die nag begin ontdooi. Dit help nie eers dat jy bietjie meer vet bymekaar gemaak het vir die koue nie. Jy klim uit maar klim weer terug onder die vere. Jy haal asem onder die drie wolkomberse sodat die wasem jou opwarm.  Na ’n ruk steek jy jou been onder die swaar magdom uit en strek met jou gesokte toon tot by die verwarmer. Druk die knoppie met jou toon op twee. Dis beter. Dan sien jy jou spierwit been by die oranje flennie uitsteek, jou beenhare reik soos klomp klein toringtjies uit na die hitte. Jou likkewaanbrein sê vir jou dis oukei as hulle so bietjie skroei. Die been is so skurf die los velletjies krimp van die paneeltjie se hitte. Voor jou sok vlam vat trek jy maar weer die voet terug onder die duvet in. Jy kan nog vir vyf minute veilig lê voor jy rêgtig gaan laat wees vir werk. 

In Walterlaan, in my ouers se huis
agter ’n tafelblad in die kombuis
sit ek en skuil
my sussie en huil
want Pappa speel wolf en muis

Tydrower

In ’n flarde van gevlekte kleure
weerspieël minuut: gejaagde lewe.

 In ’n oogwink verby,
onmiddelik vir my
sonder wenk of waarskuwing. 

Resies na die onbekende
toekomsuur gewaar sy einde. 

Wyser wysig die tye
in ’n waai wind,
stiller as niks
wat tyd is

Ouma

Ook in dieselfde boek…

Onder in sy whisky glas lê ’n stem, bewaar vir ’n lang tyd, totdat die dokter ’n glasie elke aand bestel. Haar tande blink wit soos sy my van hom vertel, haar hart klap hande in haar wange. Haar blou oë ’n waterval van stories. Haar portret die blik van liefde.

Die werklikheid wat liefde is, ongebonde aan ring of pand. Vir ewig saamgebind in woord en daad en voor God by wie hy so naby lewe. Sy vertel my van die weet. Die sekerheid wat bestaan as jou ridder op ’n wat ookal dit mag wees verskyn. Die liefde loop soos heuning uit haar storie, ek wil dit in my arms versamel en huistoe neem, maar dit loop in oorvloed. My gedagtes goudgevlek van wat dit is om saam te leef totdat tyd die laaste opdrag gee. Ek gaan huistoe met ’n glimlag en die hoop  dat ek dit ook mag beleef. Die liefde wat hulle is.

Hul koppe is na mekaar gedraai, ’n kloof, deur die lewe gevorm, berge oorwin.

Meer as sake sout geëet, ook ’n paar piesangbrode deel hul in vreedsaamheid
in ’n vriendskap wat blywend staan - nie soos Jerigo of Simson, wat moes vergaan,
nee, ’n Dawidsoorwinning, die lewe is hulle s’n.

Sy dans vir hom, hy weet dit net nie.
Dis haar oë wat dans, want haar lyf “mag mos nie.”

Vir oupa

In ‘09 het ek en my sussie vir ons oupa ’n boek geskryf…gedink om dit met die julle te deel. Dalk laat dit jou ook na hom verlang.

As ek aan my oupa dink, moet ek agteruit dink. Soos die tyd verby gaan, stap dit in sagte tik-tik terug. Die groot klok slaan dong tot in sy groen studeerkamer waar oupa stil en gefokus agter sy boeke sit. Die Hebreeuse skrifte lê swaar en ongesteurd en stof vergader, soos wagte op die pikswart trap. Soos ons by die hoekvenster uit loer, sit oupa in stilte…maar ons sweet hy is besig. Besig met iets belangrik.
   Die olifante se tande blink vir hom. Hulle roep hom saam met die groot klok. Kom oupa.  Die nag loer skrefies deur die gordyne, die badwater tap al hoër. Nog ’n dong laat ons vaakoog met die trein droomland toe. Oupa is steeds besig.
   Sy glimlag kreukel sy hele gesig. Die gordyne oor sy oë sak tot halfpad, ek wonder of hy dan net so min sien soos die Sjinese. Ek sukkel met sy hare, ek weet nie mooi hoe om dit te teken nie. 

Ek maak maar twee bolle aan die kante van sy kop. 
Sy tande is reguit, plat soos twee klippe op mekaar. 
Hy kou sy koffie saam met sy pap.
My oupa is ’n groot vriendelike reus.

Oupa is nie kwaai nie, hy was nog nooit.
Maar sy saggies praat laat my so bietjie stilbly. 
Ek is bang hy word nog stiller.
Soos die donderweer voor hy slae gee.
Voordat hy ons papnat brul.
Maar by oupa is dit nog altyd net groen gras, ’n fiets en ’n grassnyer

Agter daardie oë, blink drome. Onder die breë rand hoed, wemel gedagtes, interessante draatjies loop en kronkel woorde en ’n boodskap.

Wat dink oupa as hy so stil is?

Kopiereg © 2012 A.M. Stander.