Die WoordSpook

'n versameling van woorde en gedagtes in moeder-Afrikaans

Die Olifant In My

Ou olifant, jou grote dier. Waar het jy al ooit gehoor van ‘n stertjie van agter en ‘n stertjie van voor.

My stertjies waai in die wind. Ek het hulle nog nie onder die knie nie. Ek luister na ‘n boek oor geluk en hy vertel my dat daar ‘n olifant in my is. Ek glo hom, want ek ken die olifant. Dis hy wat my in die oggend oortuig om nog bietjie in te sluimer, die oefening kan wag, olifante kan maar vet wees want slaap is lekkerder as sweet. Dis hy wat my mond laat water as ek kolvyntjies sien met roomkaas versiersuiker en karamelblomme op drup-lekker sjokolade, omhul deur lieflike pastelkleur papiertjies. Dan gryp die stert van voor èn die stert van agter elkeen ‘n handvol. As ek die een vinnig eet, sal niemand weet ek het twee gegaps nie. Ek verstik so bietjie aan die karamel-bol. Die sjokolade lipstiffie gee my geheim weg. Ek glimlag vir die tannie in die hoek wat my met gemmerkat oë aangluur. Sy lyk my ook soos ‘n olifant, so ek los die glimlag en hap die res van die koek met ‘n bravade wat my selfbeeld oorskrei…Nou kan dìe olifant maar rustig eet aan die tweede koekie.

Dis die olifant wat my vir ure in die spieël laat wonder. Peul die rolletjies dalk bietjie te veel oor die belt? Pas my lentelappies rok by die rooi skoene? En hoekom? Want wat sal die mense sê! Dalk dink hulle ek is te eksentriek. Of miskien lyk die wit bietjie te styf. Die olifant gee om, want die mense lag, van hul plesier. En ek wonder dan, ou olifant jou lieflike, grasieuse sagte reus; wat gee jy om? Jou saggies trap en plooivelletjies en misterie inspireer my. Wie gee om wat die ander dink. Laat jou stertjies swaai, en wapper en woel. Leer jou sterte om sterk te word. Eet daai  cupcake, maar eet een en geniet hom. Lei jou olifant en leer hom lief kry. 

’n Spikkel Ding

Daar’s min dinge wat ’n mens se regte kleure wys. Wat jou neus in plooie laat en jou bolip laat opkrul soos daai papierfluitjies op kinderpartytjies. Min dinge wat mens se wenkbroue in teenoorgestelde pole laat opstuig en jou oë laat swel sodat jy iets uit ’n Chinese sprokiesprent verteenwoordig. Skril gille ontsnap verby ’n stokstuif tong, of jy nou man of vrou is. Jou ware kleure wys, want daar loop ’n ding met agt pote en ’n miljoen oë op jou muur, jou broekspyp, of erger, jou bo-arm. In een foutlose ninja-beweging word die een sentimeter bedreiging die ewigheid ingeveeg. Swoosh. Is hy weg? Dan word daar histersies na hom gesoek. Net om seker te maak hy is wel dood, en het nie rooi kolletjies op sy abdomen nie. Hy’t spikkels gehad, jy kan onthou. Maar was hulle rooi of wit? Die plek op jou arm brand nou so bietjie. Dis dalk net jou eie naels wat jou met die afvee-aksie gevang het. Maar iewers is daar twyfel. Wat as hy gebyt het? Jy jeuk vir twee dae. Sommer op ander plekke op jou lyf ook. Dalk is dit vlooie? Jy sal dit maar moet monitor. Want wie weet, miskien is dit die spikkel-ding.

Ink vriend

Saamgesnoer in ’n boesem bende van skribbel, krap skryf. ’n Liefde-en haat verhouding. Ons sien mekaar min. Die dag as hy kom kuier bly hy vir langer, soms selfs ’n paar dae. Miskien weke. Di’s dae waarin ek verswelg in lekkerkry, diep bevredigend glimlag en smullend teug aan die vriendskap tussen ons. En dan is hy weg. Sonder koebaai of vaarwel. ’n Stilte, leemte lê binne my as hy my só verlaat. Waansinnig gryp ek dan na die amper vergete pen en papier. Maar die gekrap voel doelloos dom. Ek stamp-stamp my woorde lomp op wit, gevlekte velle, die woorde klou wanhopig aan die blou draadjies - dààr vir die agtjarige in my wat wankelend wil wegbreek van reëls en ritme en rym en dinge wat mooi klink en lekker lees en wonderlik spreek. Ek voel hol van verlange en ek swoeg in die donker, die geskrewe woord vergete, vergeefs. Totdat hy weer voor my deur staan. Dan gaan iets in my hart oop. Iewers skyn ’n lig binne my. Mag hy diè keer bietjie langer bly.

My verslawing

My tuin, my verslawing. Ek loop Saterdagoggend vroeg die straat af. Die geur van jong aarbeie en sproei hang in die lug. My voete loop swaar want ek wil omkeer, terug tuin toe. Ek wil gaan vroetel, bossies uittrek, insekte opspoor. Ek dwaal en dink, wat kan ek nòg doen, waar kan ek nog iets plant. My vier by vier meter bokstuintjie is vol. Hy is so gelukkig hy loop oor. Maar ek wil hom aanvoer, opvul, omkeer. Ek wil die grond tussen my vingers voel, die stowwe-reuk ure later nog op my hande ruik. Dis my ontvlugting. Ek is vir die eerste keer in my lewe ‘n verslaafde. Ai, my tuin, my paradysie.

La - la Barbara Badwater

Vir my sus, so na aan my hart dat hy op een slag saam klop

Ba–ba–brientjie

Wipstert–kabeljoutjie–gieë

Ek mis vir jou

vandag nóg meer as gister.

My badwater koud

sonder sussie se lag-lag boud.

Rooi voete, pienk wange,

la-la, Vader Jakob.

En ek staar hom klok-

wonder of Big Ben jou ook aan badwater dink.

Of is dit net ek

wat so erg nat wang.

My badwater koud, ook al wat hartklop bedaar

rustig lê en wonder, terugverlang.

Verlang na gister – maak my

hand vashou in die lug

klop teen die muur

woorde in my kop

in jou kop probeer indruk

Hoor my

my slaap-jy-nog

la-la Brientjie.

lentebraai

vlamme kraak, barstend geurig

rook tuis in my neus

ruik somer sondae samesein

klippe kole gloeiend lewe

my wange koorsig

my hart pols van lekkerkry

ek wens dit was my vuurtjie

Weggegooi

As ek n papier was,

maar net ‘n vel papier,

en niks woorde op my reg pas

sou jy my aankoms vier.


In jou arms-yster draad

ontvang jy my met vreugde,

want jou vuil en swart gevlekte holtes

is gereeld gevul met leegte.


Ek proe die roes so teen my vel

soos ek hier opgefrommeld rus

en hoor die leë klanke

wat my saggies slaap toe sus.

Jou muwwe bodem hou my tydelik.

So n koud en yster tronk.

Dan’s ek nie meer vrylik

‘n papier met woorde jonk.

Keelseer/keelvol

Daar is n padda in my keel. Hy kwaak so elke nou en dan en snork en dan klim hy met sy skurwe lyf op en af teen my verhemelte.  As ek my mond oopmaak is hy stil. Iets in my sê vir my hy moet uit, iets anders is lus om hom te troetel. Ek noem hom nou maar vir eers Kees.

Ek gooi my arms oop, my hart omvêr.

Die hemel in my sterredank my môreson, my aandstêr.

Ruik die lentedou, geursel wat my vroegdag oopmou, omvou …

toegedraai in sonstrale, warm hartgeure van my gunsteling tyd.

Die somer het kom flikkers gooi.

My hart klop vlinders. Die tyd is naby.

Ek maak verskoning vir my verdwyning.

Dit was meer ’n ontvlugting.

’n Ontdekkingsreis na onbereikbare drome en helde.

Ek was die afgelope twee weke ’n aktiewe ondersteuner van wat ek noem, die mees verslawende, onaktiewe sportbyeenkoms op die aardbol, naamlik, die Olimpiese spele.

My bed-bank is ten vole benut, vir die uitdinne was dit nog in sit posisie, maar vir die semi’s is die bank uitgetrek en opgestel vir lê. Ja dis hoe ek ons sporthelde toegejuig en die ander lande uitgeskel het…op die naat van my rug.

En alhoewel Clos en Caster my gemotiveer het om self ’n medalje iewers te werf was dit eerder ’n eerste plek in gewig-optel as gewigstoot of nalope.

My stembande het heel waarskynlik die meeste van die werk gedoen.

Ja, ek moes oefen om vir baie lank stil te sit op my bas. My oorwinning was oor-gewig. Nou sit ons met 6 medaljes en ek sit met die gebakte pere.

Dankie aan ons helde. Julle is asemrowend. Ek raak nou asemkort as ek oploop kamer toe. Maar dit was die moeite werd. Want ek het in hierdie twee weke meer hoendervleis gekry as nog ooit tevore en dit was nie eers as gevolg van die sneeu nie.